Liefde vir wiskunde Deel 1

 
Newsletter 16 July 2019

 

Liefde vir wiskunde - is dit moontlik?  

 

Passievol!!

 

Op skool was ek net passievol vir Wiskunde en wetenskap, maar op 40 het die passie vir tale ook uiteindelik ingeskop!  EK kan nie glo ek was so negatief oor Engels op 'n stadium nie.  As 'n mens rustig op jou tyd met die regte middele 'n vak aanpak, raak die vak sommer baie makliker en 'n liefde begin ontwaak vir die vak. Netso glo ek dis moontlik om lief te word vir Wiskunde.

 

Toe ek eers begin om my idees rondom hierdie onderwerp neer te pen, het ek myself verbaas oor hoe sterk ek werklik daaroor voel.  Dit is hoekom ek dit in meer as een deel gaan publiseer - ek weet jy is besig en wil jou nie oorweldig met te veel leeswerk nie. :)

 

Hierdie is die eerste deel wat ek wil skryf binne die tema om liefde vir wiskunde by jou kinders aan te wakker.  Hierdie onderwerp is nie net relevant vir 'n liefde in Wiskunde nie, maar ook vir enige ander vak (alhoewel ek moet bieg, ek sukkel maar met geskiedenis....).

 

 

Hoekom is dit vir my so belangrik om 'n liefde vir wiskunde aan te wakker?

 

Is dit nie ‘n ingebore ding nie?  Ek glo vas dis nie noodwendig ‘n ingebore talent nie, ek glo daar is mense wat dalk meer talentvolle wiskunde gene as ander het, maar ek het ook al gesien dat wat jy dink oor wiskunde baie meer waarde dra as jou ingebore talent.  Ons sien dit gereeld op die sportveld.  Baie talentvolle sportmense bereik nie naastenby so baie soos die atleet wat hard oefen en dit geniet nie.  Ek glo enige persoon kan wiskunde doen en enige persoon kan wiskunde goed doen.

 

Daar is 5 MOENIES en 5 MOETS wat krities is in ons verstaan rondom liefde vir wiskunde.  Hiermee die eerste een.  Byt vas vir my tweede blog volgende week om die volgende MOET en MOENIE te lees!

 

MOENIE 1: Moenie negatiewe goed oor wiskunde sê nie.

 

 My pa was altyd positief oor wiskunde in ons huis.  My pa moes Standard 8 (nou graad 10) uit die skool uit, want hulle het nie geld gehad nie en hy moes ‘n ambag gaan leer het.  Hy was nie noodwendig briljant met wiskunde op skool nie, maar gedurende sy ambag het hy ‘n liefde vir wiskunde aangeleer en daarin begin uitblink.  Geen van sy ouers of broers of susters was wiskundeliefhebbers nie.  My pa het ook nie omgegee of ons as kinders met ‘n wiskunde talent gebore is of nie, hy het gepraat asof wiskunde maklik is, dat enige een dit kan doen.  So ek en my broers het in wiskunde uitgeblink van kleins af.  Ek het nooit in tale uitgeblink nie, dalk omdat my ouers ook met Engels gesukkel het (en dalk ook negatief daaroor gepraat het).  Soos wat die onderskeidings vir Wiskunde ingerol het, het ek deur ekstra engelse klasse geswoeg om net-net deur te kom. 

 

So is ek na ‘n Afrikaanse Universiteit toe (want ek was bang vir Engels) en begin ek 6 jaar later by Sasol werk.  Twee jaar in my werkservaring en ons moet alles in Engels begin doen – vergaderings, verslae, e-pos, ALLES!!  Ek moes ook in San Fransisco ‘n Engelse aanbieding gaan maak.  SCARY.  My bestuurder daardie tyd sê toe ‘n baie wyse ding vir my toe ek bang is:  “Onthou net, die internasionale taal is slegte engels”.  Dit het my nie beter laat voel oor my engels nie, maar besef dat die Duitsers, die Japanners, die Australianers, die Texans, die Italianers, ens almal minder goeie engels praat, so ook ons Afrikaners. 

 

Nooit het ek geweet jare later sal ek sowaar met ‘n Engelsman trou nie.  Waarom vertel ek jou al hierdie goed? Wel, fast forward en ek begin tuisskool.  Ek is vol vertroue met Wiskunde, maar tale!!  O genade!  Hoe gaan ek my kinders ‘n taal kan leer as ek self nie wat wonders daarmee is nie!  So begin ek toe ‘n studie doen oor tale en vandag is ek vol vertroue dat die rigting wat ek met my kinders rondom tale wil inslaan (sonder ‘n allesomvattende kurrikulum) die regte vrugte gaan afwerp. Kom ons meet oor so ‘n paar jaar of hierdie net grootpratery was of nie.

 

Ek het in my lewe geleer, dat wanneer jy enige iets in ‘n postiewe lig gaan sien, jy baie vinniger en baie beter dit onder die knie gaan kry, in my geval, tot Engels!!

  

 

 

 

Moet 1: Praat positief oor wiskunde

 

 

So, wat nou, wat moet ek nou maak.  Jy wil eerlik wees (wees altyd eerlik, jou kinders kan ‘n halwe leun BAIE maklik optel).  So hoe klink positief, maar tog eerlik as ek as mamma nooit goed was met wiskunde of van wiskunde gehou het nie?

 

‘Mamma wens mamma kon oorbegin met wiskunde, as ek toe geweet hoe maklik dit is, het ek baie beter gedoen!’

 

‘Mamma het geleer dat wanneer jy regtig wil, jy enige iets in die lewe kan leer en bereik.’

 

‘Mamma gaan saam met jou leer en ons gaan saam dit regkry.’

 

Hierdie word ‘n ‘growthmindset’, ‘n groei ingesteldheid genoem.  Navorsing het gewys dat wanneer jou kind ‘n groei ingesteldheid het oor enige onderwerp, hulle kanse op sukses later in die lewe baie groter is as wanneer jou kind ‘n vaste ingesteldheid het.  Dit gaan nie oor hoe goed ek is nie, dit gaan oor hoe hard ek werk.  Ek belowe ek sal nog iewers ‘n gedetaileerde blog skryf oor die navorsing hierrondom.

 

Voordat jy jou kind positife kan instel, moet jy jouself positief instel. Jy kan jou kind(ers) ook vra om op te tel as jy negatief praat (of jou oë rol - ek weet, ek doen dit) en dink dan saam aan iets positief.

 

Doen die wiskunde saam met jou kind en maak aanmerkings oor hoe maklik dit nou is en dat jy nie verstaan waarom jy as kind jy daarmee gesukkel het nie. 

  

 Tot weersiens

 

 

Stuur asb vir my jou maniere hoe jy positief raak rondom ‘n onderwerp, ek sal graag by jou ook wil leer.  Ek sal ook graag wil hoor of jy hierdie al begin toepas het en wat jou resultate is.

 

Lekker werk en moenie dat wiskunde jou onderkry nie!!  Wys wie is baas. :)

 

Hoop om weer volgende week met jou te gesels. 

 

 

 

Produkte

Logiese raaisels

Ek het my 'geekie/nerdy' sy baie uitgeleef om hierdie video te maak vir ons logiese raaisels - gaan geniet dit!

https://www.youtube.com/watch?v=HDqymh2C_Kk

 

Ek het besluit om die Raaisels baie bekostigbaar te maak vir die Suid-Afrikaanse mark.  Gaan loer bietjie en sien of julle gesin dit sal geniet om te doen.

https://tuisskool-in-afrikaans.teachable.com/p/logiese-raaisels/

 

 

 


Attachments
wilmien_davis_consulting-newsletter_october.pdf